Tiaan se gemaklike kaas
Die lekker ding van resepte oral bymekaar maak, is dat wanneer jy hulle maak, elkeen met ‘n storie kom. Elkeen met ‘n herinnering van die geleentheid waar jy hom gekry het. Amper soos ‘n 3D foto, wat jy oor en oor kan uithaal en weer kan dink aan daardie kuier, plek of bymekaarkoms waar daardie resep gebruik is. 2016 het veral baie van daardie geleenthede gebring - baie nuwes om by die oues te voeg. Soos die kuier van Tiaan Langenegger in Port Elizabeth, Meimaand. Wat ‘n fees om hierdie ontspanne chef in aksie te sien! Hy maak so natuurlik kos asof hy net besig is om gou vir ons ‘n lekker koppie koffie te skink terwyl ons gesels.
Een van die resepte wat hy so non- chalant gedeel het was sy kaas. Hierdie resep is soos baie van Tiaan se kos nie rigied in die bestanddele of metode nie, slegs die basis-idee wat hom daartoe leen om aan te pas soos wat jou bestanddele of smaak toelaat:
Tiaan se kaas
Bestanddele:
1 houer roomkaas
1 houer maaskaas
1 koppie kaas van keuse (gerasper)
1 blik fyn pynappel
1 soetrissie(gekap)
1 ui (gekap)
Knoffel en kruie speserye
Sout en peper na smaak
Metode:
Braai die ui en soetrissie totdat effens sagter en minder skerp in geur - laat afkoel.
Meng alles saam en bedien saam met wat jy geniet!
Lekker resep vir die vakansietyd wat kom!
Geniet dit!












