Selfdoen koidam?
‘n Koidam kan jou agter- of voortuin in ‘n kalmerende paradys omskep as jy dit reg doen. Baie mense se grootste bekommernis met die bou van ‘n koidam is die verseëling van die dam. Alhoewel dit ‘n baie belangrike punt is is daar ook ‘n paar ander punte wat tydens die beplanningsfase in gedagte gehou moet word om die projek so suksesvol as moontlik te kan afhandel.
Ligging: Kies ‘n plek in jou tuin met ‘n goeie mengsel son en skaduwee. Indien jy ‘n watervalletjie sou wou aanbring is dit ook slim om die dammetjie op ‘n natuurlike helling te bou. Alternatiewelik kan jy altyd ‘n helling skep met die grond wat jy uitgrawe om die gat te maak. Grootte: Die minimum voorgestelde grootte vir ‘n koidam is 10 000 liter of tien kubieke meters. Moontlike dimensies is dus 2 m x 3 m x 1.6 m diep. Variasies op hierdie groottes kan natuurlik gebruik word, maar geen dimensie moet ooit minder as 1.5 m wees nie.
Onderhoud: Hoeveel tyd en geld is jy bereid om aan die onderhouding van die dammetjie te spandeer? Dit gaan in ‘n mate die styl en grootte van die dammetjie affekteer – hoe groter, hoe duurder die deurlopende kostes. Met of sonder visse: Koivisse eet muskiete en alge en help met waterplante se bevrugtingsproses. Indien jy wel visse gaan aanhou is dit ‘n goeie idee om tydens die uitlê van die dam reeds klippe so te pak dat dit vir die visse natuurlike holtes en wegkruipplekke vorm.
Onthou ook dat ‘n koidam verkieslik ‘n diep- en vlakkant moet hê, maar walle moet redelik regaf loop eerder as om geleidelik al hoe vlakker te raak.
www.happykoi.co.za













