Jogurt en muesli - na ‘n jaar se veranderinge
Lietsjie jogurtterrien met aarbei-heuningstroop, tuisgemaakte muesli en geskroeiroosterde vrugte
Dis is vandag presies ‘n jaar terug wat ek gehoor het ek is deel van die gelukkige 10 wat in die Koekedoor ervaring gaan deel. Met daardie oproep was ek baie opgewonde! En ook baie bang! Ek het besef dat Bak101 my voorland is vir die kort tydjie wat ek het voordat ons na die stel vertrek. Maar dit is soos om voor te berei vir ‘n eksamen waarvan jy nie die klasse bygewoon het nie en dus nie ‘n idee het watter werk behandel is nie!
Ek het my bakkende skoonma-engel gepeper met vrae, en al haar boeke aangevra, net om te besef dat daar nooit genoeg tyd gaan wees om deur almal te gaan nie. Sy het vir my ‘n paar voorstelle gemaak van wat sy dink in die bakwêreld belangrik is om te weet, en ek het gou besef dat ek nie eers die terminologie onder die knie het nie - wat gaan ek maak as ek nie eers weet wat is die verskil tussen ‘n creme anglais en ‘n creme patisserie nie! My pa is ‘n kranige broodbakker, so ek het darem al daardie blootstelling aan ‘n baie goeie boerebrood gehad, maar wat as ek ‘n brood met heerlike groot gate moet bak? Ek het Carolié de Koster se ‘Rising to Perfection’ by my skoonma geleen en die basiese beginsels van die brode probeer in my kombuis (hierdie boek is nou aan my geskenk en ek pas dit soos goud op!)
Die reeks is nou agter die rug en ons almal weet dat ons toe nie die brood met groot gate gekry het nie, maar baie groter en nuwer uitdagings wat ek in my wildste drome nie sou kon voorstel nie! Die hoeveelheid kennis wat ek in hierdie ervaring opgedoen skep ‘n leerkurwe van hoër as Kilimanjaro!
Die ander boek waarna ek selfs as my handboek verwys het is Christine Capendale se ‘Bak vir pret en profyt’ - ‘n boek met so ‘n groot verskeidenheid resepte - en vir elke kombuisliefhebber ‘n moet!
Noudat ek gewoond geraak het om nie net die resep te aanvaar nie - maar baie verder te dink en doen (seker maar iets van Kanya wat aan my afgesmeer het), bly elke resep onder my eksperimentasie in die slag. Ek weet selfs nou al wat is ‘n terrien! Ek het hierdie resep in Christine Capendale se “Elke dag Koningskos’ raakgeloop, en hom aangevat! Christine se weergawe is baie goed - so ek hoop hierdie een kan haar goedkeuring kry! Die muesli kom van ‘n goeie vriendin, Lucy Vosloo - maar selfs hierdie resep het ‘n paar aanpassings...
Lietsjie Jogurtterrien
20ml gelatienpoeier
60ml lietsjie sap - gedreineer uit die lietsjies
1 blik (567g) lietsjies
500ml volroom gewone jogurt
50ml strooisuiker
250ml vars room geklop
Voer ‘n broodpan met kleefplasiek uit, en verf effens met water sodat dit nat is - dit maak die uitkeer makliker.
Dreineer die lietsjies en maak fyn in voedsel verwerker - moenie verpulp nie - die effense stukke in die terrein sal lekker wees.
Wanneer dit uit die voedselverwerker kom, plaas in ‘n sif en dreineer - gebruik hierdie vloeistof as die 60ml lietsjiesap.
Strooi die gelatienpoeier oor die lietsjiesap en laat spons.
Sodra benodig, plaas vir 40 sekondes in die mikrogolf om op te los - moenie laat dit kook nie!
Meng die jogurt, strooisuiker en lietsjies saam.
Meng die opgelosde gelatien by.
Vou alles by die styfgeklopte room in en laat oornag in die yskas om te stol.
Aarbei-en-heuningstroop
250g aarbeie gekap
85g heuning
80g bruinsuiker
Meng die aarbeie, suiker en heuning saam in ‘n pot.
Kook saam - pas hitte aan sodat reëlmatig kook.
As dit te sapperig is kan die temperatuur verhoog en andersom.
Kook totdat die vloeistof dik is - roer gereeld. Die aarbeie sal nog stukke wees - dit maak dit lekker.
Kan tot 1 week in die yskas in ‘n lugdigte houer gestoor word.
Tuisgemaakte Muesli
(die mengsel maak nogal ‘n groot hoeveelheid)
8 koppies hawermout
250ml bruinsuiker
500ml koringkiem
250ml gekapte neute van keuse
250ml klapper
250ml sonneblomsaad
125ml heuning
Meng al die bestanddele saam.
Plaas n ‘n oondpan en rooster in die oond vir 45 minute by 180°C - roer elke 10 minute goed deur (dis baie belangrik anders vorm daar klonte).
Stoor in ‘n lugdigte houer.
Geskroeiroosterde vrugte:
(net genoeg vir die hoeveeheid porsies wat vir die opdiening benodig word)
Gebruik enige harde/stewige vrugte soos appel, pynappel en peer.
Voorverhit ‘n groefpan tot baie warm. Spuit effens met kleefwerende baksproei.
Sny die vrugte in dun skywe en braai op die pan sodat die groewe roostermerke maak.
Vir opdiening:
Haal die terrien uit die pan en sny in skywe.
Bedien saam met die muesli en vrugte.

















