die plein
die plein kerkplein miernes mense stap klik-klak oor die plaveisel jy sak stadig laer, nader veervlerk suising soos windgordyne met jou landing verdwyn die klik-klak miernes net jy en ek, veerding blouste blou veerding jy praat in 'n ronde taal wat ek herken maar nie ken nie kom sit op my skouer en werk sorgvuldig my vingers aanmekaar met garedraad skuif my haakerige arms rond totdat dit die gestalte van takke neem kom sit op my voorkop en pik vernuftig vir jou 'n deur met 'n sleutelgat vervang my dorre denke met 'n nes waar jy jou donsvere kan matlê en jou blinkgoed kan berg grawe 'n sloot met jou voëlkloue waar my voete sal wortel vind ek is die bos my gedagtes jou nes













