Die laaste ka(r)skenade waaroor ek blog.
Sedert ek Terry Pratchett se Small gods gelees het, glo ek in die konsep (en die humor) van small gods. Daar is beslis parkeerplekgode, toiletpapier-in-die-koshuis-gode, beursgode, lucky-draw gode, en natuurlik een wat vir my ongelooflik relevant is: kargode. Die hoeveelheid probleme wat ek met karre ervaar het my al oortuig daarvan dat kargode net glad nie van my hou nie. Jy kan nou dalk dink dat ek belaglik is, maar selfs al glo ek nie in kargode nie: hulle glo in my.
Ek het al geblog oor die keer toe Katriena net morsdood neergeslaan het in Merrimanstraat. Ek het haar nou teruggekry, gediens en reg vir nog drama. Maar in die tussentyd het ek rondgery met my tannie hulle se ekstra Citi-golfie. Ek het net drie keer met dit gery (uit vrees vir die kargode). Een keer was Paul Roos toe, een keer was BP toe, en die ander keer was na die SS toe vir ‘n debat wat ek moes beoordeel.
Jana, die arme siel, het saam met my teruggery van debat af. Ek het voor ek behoorlik uit die parkeerplek uitgetrek was geweet daar is iets fout. Dit vat nie baie redenasievermoë om dit te vermoed as jou stuurwiel spontaan tussen jou hande dans nie. Maar ek het het nie besef hoe ernstig dit is nie, tot iemand wat verbygestap het, vir ons gesê het ons moet aftrek. So daar staan ek en Jana voor Huis Marais, met ‘n wiel wat nie net pap is nie – ‘n wiel wat DOOD is. ‘n Wiel is pap as jy kan sien daar is nie baie lug in nie, en hy ry moeilik. ‘n Wiel is dood as dit soos ‘n piesangskil om die rim le. Dit het bloot toevalling gelyk dat die wiel nog daar was.
Mens sal dink dat ek met al my kar-verwante kaskenades weet hoe om ‘n wiel om te ruil. Maar ek weet nie. Selfs net die spaarwiel vind was ‘n drama: want vir een of ander obskure rede was daar agter in die Golfie ‘n moerse silwer swembad. Dit het gelyk soos ‘n spaceship wat afgeblaas is. Ons het nie eers die USBD gebel nie: hulle het bloot verskyn. Wat seker ook gebeur as daar twee hoogs verwarde meisies voor Huis Marais staan met ‘n pap wiel en ‘n huge silwer swembad.
Toe hulle die spaarwiel op het, het hulle dit goedgedink om ons in te lig dat hy ook pap is. Ons het toe, op hul aanbeveling, teen 20 km per uur afgery in Merriman tot by BP. Met die hazards aan. Ek wil sê dit was embarrassing, maar hoofsaaklik is ek al gewoond daaraan.
Ek kan wel sê dat die selfoongode meer van my hou. Of dalk op hul eie manier om verskoning probeer vra vir die belaglikheid van die kargode. Want daardie selfte aand het ek by die debat agtergekom my foon is weg. Ek het my doodgestres en seker 2 toesprake heeltemal gemis (ek hoop nie iemand van daardie debat lees dit nie). Maar in die middel van die debat het Jana ‘n sms van Judy gekry: sy het my foon gebel, iemand het dit hoor lui op die gras buite Heemstede, geantwoord en dit vir my teruggebring. Dankie daarvoor.
Daar is ook ander small gods met wie ek ‘n beter verstandhouding het: die kaasgode (dalk beter om dit die laktose-gode te noem)… Ek het nog nie doodgegaan van te veel laktose nie, en dis ‘n goeie ding. Die “gereg”-gode: na ‘n noue ontkoming met die polisie asook die sdk is dit duidelik dat daar goeie karma chips weggesteek is êrens.
Maar ek sal beslis of ‘n fiets moet kry, of baie vinnig op beter voet met kargode om. Hierdie is die laaste keer wat ek blog oor karprobleme.
Volgende keer: die dag van gluttony, die French Affair, en Herta von Stiegel…












