Hout behoud
Modes kom en gaan deur die dekades, maar niks is so immergroen en mooi soos natuurlike hout nie. Of jy dit nou gebruik vir stoele, tafels, deure, heinings of ‘n houtdek, die skoonheid en duursaamheid van hout bly die mens betower. Om houtprodukte te beskerm en langer te laat hou is daar ‘n paar riglyne om in gedagte te hou.
Daar is verskeie produkte op die mark wat aangewend kan word om houtprodukte te beskerm. Kreosoot- en Carbolineum-produkte kan onder andere aanbeveel word vir aanwending op motorhuisdeure, vensterrame en houtheinings.
Kreosoot is ‘n baie effektiewe en langdurige houtpreserveer-middel. Maak net seker dat dit nooit in kontak met jou klere kom nie en gebruik dit slegs buitemuurs waar daar goeie ventilasie is.
Gebruik eerder hardehout vir meubels. Houtmeubels kos dalk aanvanklik meer maar behou hulle afwerkings langer en is meer duursaam met die minste onderhoud.
Belê in duursame bedekkings vir jou houtmeubels, veral vir die wat buite staan. Die oortreksels moet noupassend wees en nie holtes skep waar vog op kan gaar nie.
Sagte houtmeubels (bv. van dennehout) moet skoon en droog gehou word om so lank as moontlik te hou. Hierdie meubels is nie geskik vir langdurige buitemuurse gebruik nie, so hou dit soveel moontlik uit die wind en weer.
Die enigste hout wat jy hierdie somer tot niet mag laat gaan is dié wat jy vir jou braaivleisvuur gebruik. Jan Braai sal trots wees...
www.ehow.com










