Volwassewording
Die vertrek is leeg. Die mure wit. Daar is 'n
eensame vlek wat as nagedagtenis van 'n
lewe in die plafon lê. Die vloer se planke is
uitgetrap, met kolle waar die vernis paaie
geloop is. Die sakkende son gooi sy laaste
stroke lig in die kamer in. In die glimmerende
stof sien ek hoe my grootword oomblikke stil-
stil ronddans: Die ure wat my pienkrokkie-lyfie
die poppe laat grootmens speel het, die
legkaarte, die verhale van vreugde, maar ook
die gebroke harte - die volwassewording. My
hart verlang terug na die dekens van laventel
tot die grootmeisie wit. Volwasse.
Die storieboeke wat vervang is met
Biochemie en Besigheids. Boeke wat jou
verbeelding smoor en jou laat onthou die lewe
stap vorentoe - na leê vertrekke.
Ek staan vasgevang tussen die ruimte van die
verlede en ek smag intens na die son om weer
terug oor die berge te verskyn. Maar die wolke
is klaar spookasem en ek draai om en maak
versigtig die deur toe. Ek stap by die vertrek
uit met 'n paar brokkies sentiment en glimlag.
Glimlag omdat die res van die huis nou
bewoon kan word.
-I.J.














