Eetbare blomme: suigstokkies en ander idees
.
Dis lente! En die mooiste blomme is orals sigbaar. Ek het ‘n swakplek vir kleur, en elke jaar swig ek voor die kleurvolle plantjies by die kwekery - ek kan die viooltjies, gesiggies, en ai, die rose nie weerstaan nie. Maar hierdie jaar het ek’n paar blink idees raakgeloop wat vir my meer as genoeg rede verskaf het om al wat eetbare blom is aan te skaf. Ek het sommer so paar nuwe dinge oor blomme geleer ook! Ek het ons Koekedoorplantkenner: Wessels genader en so paar vrae gevra - net om seker te maak dat ek wel eetbare blomme aanskaf!
Kan jy vir ons 10 eetbare blomme noem?
i. Kappertjies (Nasturtium) - lekker smaak en pragtige kleure van room tot amper swart met elke warm kleur tussenin ii. Viooltjies (Viola) - Elke kleur onder die son - van spierwit tot pikswart, veral goed vir elke skakering blou iii. Grasuie se blomme (Chives) - Lekker uie-geur en ligpers kleur iv. Komkommerkruid (Borage) - Mooiste blou v. Murgpampoentjieblomme - goudgeel - kan gevul of getempura ook word vi. Gousblomme (Calendula) vii. Angeliere (Dianthus) viii. Daglelies (Hemerocallis) ix. Sonneblomme (Helianthus) x. Laventel (Lavandula)
Waarvoor moet ons uitkyk as ons eetbare blomme soek?
Goggas :D Sommiges hou nie baie lank nie, so hou in yswater tot jy opdien Sommiges is net die blomblare self lekker, so pluk hulle maar af
Watter blomme gebruik jy graag?
Kappertjies, viooltjies, grasuiblommetjies (chives)
Ek het ook in ‘n hele paar ander goeie idees raakgeloop. Hier volg so paar:
In VISI tydskrif se Augustus/September uitgawe het ek hierdie raakgeloop: KLIEK HIER: Idees vir eetbare blomme
Chantel Dartnall (Chef van die jaar, 2014) is baie kreatief met blomme in haar kos, KLIEK HIER: Die mooiste blomme met kos!
In Food & Home Entertaining tydskrif se September uitgawe: Eetbare blomme as suigstokkies! Nou kan ek na hartelus kleurvolle blomme aanskaf - en dit sal vir elke seisoen wissel!! Dit maak die vrolikste koekversierings - maak net seker dis eetbare blomme!!
Blomsuigstokkies:
(maak omtrent 10 enkelblomme)
Bestanddele:
Olie (vir smeer)
440g suiker
190g vloeibare glukose
160ml water
Paar druppels geursel (opsioneel)
Kleursel (opsioneel)
Eetbare blomme na voorkeur (plat blomme werk makliker - bv. rose sal beter werk as enkel blare eerder as die vol blom)
10 hout sosatiesstokkies
Metode:
Berei 2 groot bakvelle voor (silikoon werk die maklikste) en smeer liggies met olie.
Meng die suiker, glukose en water in ‘n klein potjie oor lae hitte (moenie laat kook voordat al die suiker nie gesmelt het nie). Plaas die pot se deksel aanvanklik op om te help dat die suikerkristalle wat an die kan vorm kan afsmelt, of verf af met ‘n kwas wat in warm water gedoop is.
Verhoog die hitte en laat kook - moenie roer nie - totdat die suiker kraakstadium bereik - omtrent 150℃
Verwyder van die hitte en roer geursel en kleursel in indien verkies.
Gebruik ‘n lepel en vorm poele op die voorbereide bakvelle - spasieer ver genoeg uitmekaar dat dit nie raak nie.
Plaas jou blom in elke poel en gebruik die stokkies om dit liggies dieper in te druk.
Voeg weer ‘n lagie suikerstroop oor om die stokkies in te seël.
Laat afkoel en verhard voordat verwyder.
Stoor in ‘n lugdigte houer met ongekookte rys om te verhoed dat dit vog trek.










