Ligging. In 'n ou Kaapse huis, ongeag van wat sy grondplan was, is die kombuis altyd aan die end van 'n vleuel geplaas-van 'n agtervleuel, as die huis agtervleuels had, en aan die stertpunt van die T as dit 'n T-vormige huis was.
Grootte. Soos die meeste ander vertrekke in die huis, het dit die volle breedte van die vleuel beslaan, en was dit gewoonlik min of meer vierkantig, d.w.s. van 4,5 m x 4,5 m (14' x 14') tot 6m x 6m (18' x 18').
Buitedeur. Die kombuis het altyd sy eie buitedeur gehad ('n
bo-en-onderdeur) wat of na die sy of na die agterkant van die huis oopgegaan het nooit na die voorkant nie. In die meeste huise was die kombuisdeur 'n eenvoudige plankdeur. 'n Kom- buisdeur met verhewe kussingpanele in bo- en onderdeur wek dadelik die vermoede dat dit 'n ou voordeur is, wat uit sy oor- spronklike plek verskuif is. Die kombuisdeur was breed maar nie hoog nie sonder die kosyn, gewoonlik omtrent 1 m (39" tot 40") breed en van 1,8 m tot 1,9 m (70" tot 74") hoog. Die onderdeur was altyd korter as die bodeur. In herehuise was die skeiding tussen die twee gewoonlik in 'n lyn met die vensterbanke; in kleiner huise kon dit 'n bietjie hoër lê, hoewel nooit tot by die ontsettend lelike half-om-half verhouding van die moderne namaaksel nie. Die deurkosyn was massief, soos inderdaad ook die vensterkosyne - omtrent 10 cm (4") breed en 13 cm (5") dik.
Vensters. Dit wil voorkom asof kombuise in die oudste huise- baie sleg belig was, dikwels deur slegs 'n enkele swaaivenstertjie of een of twee rye klein ruitjies bokant die deur. 'n Mens kan nie anders dink nie as dat die bodeur altyd oopgestaan het, behalwe snags of in gure weer. In later tye is groter vensters gewoonlik ingesit; net soos die kombuisdeur, het hulle egter nooit na die






